Munisipaliteit ignoreer verstopte drein

Me. Elizabeth Nkonyane wat by die kleuterskool werk, wys na die riool wat reeds twee weke in die erf stroom.

Riool wat oorloop bederf die speelterrein by Loving Kids Day Care Kleuterskool op die dorp.

Die eienaar, me. Yolandi du Preez, is moedeloos oor riool wat in die skool se speelterrein vloei.

Die drein het op 21 Februarie só verstop geraak dat dié vuil water in haar erf in Blesbokstraat begin oorloop het.

Me. Du Preez het gesê sy het drie keer persoonlik na die Lekwa Munispaliteit gegaan en het tot dusver 12 foonoproepe na die munisipaliteit gemaak in ’n poging om die probleem op te los.

Werkers van die munisipaliteit het op Saterdag, 25 Februarie die drein oopgegrawe en net so agtergelaat.

Volgens me. Du Preez het hulle ’n ketting van haar speeltoerusting geleen en gebreek.

Sy het ook gesê dis onaanvaarbaar om kinders in sulke omstandighede te moet versorg.

“Ons betaal ons heffings en belastings getrou want die munispaliteit skroom nie om afsnywerk te doen nie.

“Wanneer jy van hulle hulp nodig het, moet mens sukkel.”

Volgens haar ly haar onderneming skade.

Sy is van mening dat die ouers betaal vir versorging van hulle kinders en die munisipaliteit teenoor dié kinders ’n verantwoordelikheid het.

Die Standerton Advertiser het op 7 Maart ’n e-pos aan me. Thobeka Mtshiselwa, woordvoerder van die munisipaliteit, gestuur waarin gevra is waarom die drein steeds nie herstel is nie, maar geen terugvoering is ontvang nie.

  AUTHOR
Antonette Keyter
Reporter

Latest News

COMMENTS

Top