Volledige Artikel: DBV en die munisipaliteit sit steeds nie om een tafel nie

Die DBV en die munisipaliteit talm steeds om die kontrak te hernieu en intussen maak rondloperbeeste op Standerton inwoners warm om die kiewe.

Rondloperbeeste op Standerton blyk ’n nimmereindigende stryd te wees.

Die Standerton Advertiser het op 25 November verlede jaar berig oor die dispuut tussen die DBV en die Lekwa Munisipaliteit rakende die kontrak wat verval het.

Volgens me. Jenneth Geel, senior inspekteur van die DBV, het die DBV het vanaf 2012 geen betaling vanaf dié munisipaliteit ontvang nie.

Sy het blykbaar gepoog om met die munisipaliteit ’n afspraak te maak, maar het later gesê sy sukkel om telefonies met hulle in verbinding te tree.

Me. Geel het dit weer eens beklemtoon dat die DBV minder as R3 000 ’n maand uit die Standerton-gemeenskap ontvang en steeds afhanklik is van hulp wat vrywilligers van ander dorpe aan hulle verleen.

“Standerton-gemeenskap se hulp word dringend benodig.”

Me. Geel het gesê dat die rondloperbeeste nie sonder ’n kontrak verwyder word nie, want dit sal as veediefstal gekwalifiseer word.

Die Standerton Advertiser het ’n navraag aan me. Thobeka Mtshiselwa, woordvoerder van die Lekwa Munisipaliteit, gestuur waarin navraag gedoen is oor wie geskakel moet word om die kontrak te hernieu en oor die beweringe dat me. Geel nie ’n afspraak kon kry nie.

Me. Mtshiselwa het gesê dat die munisipale kantore enige tyd besoek kan word deur me. Geel of die publiek indien hulle afsprake wil maak.

Sy het ook gesê sy beveel aan me. Geel skakel die munisipale bestuurder om die kontrak te hernieu.

Me. Geel het hierop geantwoord dat diere wat hulp nodig het, eerste kom en dat sy nie vanaf Secunda kan ry net om ’n afspraak te maak nie, want die DBV se fondse is beperk.

Intussen sukkel die inwoners van Kosmospark baie met die beeste wat oral mors en mure stukkend stamp.

Volgens ’n inwoner in Prevetstraat, wat uit vrees om geteiken te word, anoniem wil bly, was daar ’n wyle gelede ’n voorval waarin ’n bees deur ’n motor oorkant Early Bird raakgery is.

Die bees was nie dood nie en volgens die inwoner is die dier wreed in stukke opgekap deur mense met byle en messe wat die vleis toe weggedra het.

Die Standerton Advertiser het weer ’n e-pos aan me. Geel gestuur om vas te stel of sy ’n afspraak kon kry met die munisipaliteit, maar het tot op hede nog geen terugvoer ontvang nie.

  AUTHOR
Antonette Keyter
Reporter

Latest News

COMMENTS

Top