Colignystraat op Standerton byna grondpad

Colignystraat op Standerton is soos ’n glanspersoonlikheid wat kort-kort die nuus met negatiewe beriggewing haal.

Die Standerton Advertiser het op 2 Augustus net na die draai vanaf die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) die voormalige teerpad, vir die eerste gedeelte, aangedurf en die gate op kamera vasgelê.

Dié gate is met bakstene opgevul en motoriste besluit wyslik om die skouer van die pad, eerder as die middel, te gebruik.

Met boomtakke op die sypaadjie wat afgesny is en bourommel op ’n oop erf word nie ’n goeie prentjie geskets nie.

Lyne by die kruising met Joubertstraat bestaan nie en die stopteken lê hoeka op die sypaadjie.

’n E-pos is op 2 Augustus aan me. Thobeka Mtshiselwa, kommunikasiebestuurder van die Lekwa Munisipaliteit, oor die aangeleentheid gestuur.

Me. Mtshiselwa het gesê dat infrastruktuur aandag geniet en dat die die Gert Sibande Distriksmunisipaliteit saamwerk om slaggate op die dorp te herstel.

Sy het ook gesê dat stopteken teen die einde Augustus weer opgerig sal word en wat die boumateriaal en takke aanbetrek, word verordeninge hersien.

Volgens haar besoek die munisipaliteit huiseienaars wanneer sulke voorvalle onder hulle aandag kom sodat die nodige opruiming op sypaadjies gedoen kan word.

Mnr. Hillel Coetzer, AfriForum se streekskoördineerder vir Mpumalanga-Wes, het sy frustrasie met die situasie laat blyk.

“Ons het die munisipaliteit verskeie kere op terme geplaas, maar sal aanhou druk toepas,” het hy gesê.

  AUTHOR
Marina Schoombee
Sub-Editor

Latest News

COMMENTS

Top